Paul Robeson

Paul Robeson
Paul Robeson in 1942
Agtergrondinligting
GeboortenaamPaul Leroy Bustill Robeson
Gebore9 April 1898
Princeton, New Jersey, Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Sterf23 Januarie 1976
Philadelphia, Pennsilvanië, VSA
Beroep(e)Sanger, akteur, sosiale aktivis, advokaat, atleet
InstrumenteBasbaritonstem
Jare aktief1923-1963

Paul Leroy Robeson ([ˈroʊbsən]; * 9 April 1898, † 23 Januarie 1976) was 'n Amerikaanse sanger, akteur, advokaat en aktivis wat by die Burgerregtebeweging betrokke geraak het. Tydens sy akademiese opleiding by die Rutgers-kollege, waarvoor hy 'n beurs ontvang het, was hy 'n uitstekende voetbalspeler. Hy het sy LL.B.-graad by die Columbia-regskool ontvang terwyl hy in die National Football League (NFL) gespeel het. Paul Robeson was 'n tiental tale magtig.

Die basbaritonstem van progressiewe en anti-fascistiese Amerika: Paul Robeson sing in September 1942 Star-Spangled Banner saam met werfarbeiders in Oakland, Kalifornië
Stolpische Strasse in die DDR-hoofstad Berlyn is op 9 April 1978 ter ere van Paul Robeson hernoem as Paul-Robeson-Strasse. In Londen herinner Paul Robeson Close en die Paul Robeson Theatre aan die sanger, terwyl ook 'n koshuis na hom vernoem is

In sy tyd as Columbia-student het Robeson reeds as sanger en akteur opgetree. Na graduering het hy by die Harlem Renaissance-beweging betrokke geraak en rolle in toneelstukke soos The Emperor Jones en All God's Chillun Got Wings vertolk. Vervolgens het hy 'n internasionale loopbaan as sanger en as toneel- en rolprentakteur begin. 'n Toneelrol in Londen het die aanleiding gegee vir sy meerjarige verblyf in die Verenigde Koninkryk saam met sy vrou Eslanda Goode Robeson ("Essie").

Internasionale gebeure en ontwikkelinge soos die Spaanse Burgeroorlog, die opkoms van fascisme in Europa en sosiale ongelykhede het sy belangstelling in politiek gewek. Sy anti-imperialistiese standpunt, sy affiliasie met kommunisme en die kritiek, wat hy op die Amerikaanse regeringsbeleid gelewer het, het daartoe gelei dat hy gedurende die McCarthy-tydperk op 'n swartlys geplaas is. Paul en Essie Robeson se vriendskaplike betrekkinge met die Sowjetunie (Robeson het sy eerste besoek aan die Sowjetunie op uitnodiging van die Sowjet-Russiese meesterregisseur Sergei Eisenstein gebring), hul aktivisme vir die burgerregte van swart Amerikaners en swart bevrydingsbewegings in Afrika het skerp reaksie van Amerikaanse regeringskant uitgelok. In 1950 is hul paspoorte ingetrek. Eers agt jaar later kon hulle weer na die buiteland reis nadat die Amerikaanse Hooggeregshoof bepaal het dat die reg op 'n paspoort vir elke Amerikaner in die Amerikaanse Grondwet verskans is.

Sy swak gesondheidstoestand het hom in 1963 genoodsaak om sy loopbaan voortydig te staak en af te tree. Sy vrou Essie is twee jaar na sy aftrede aan kanker oorlede. Gedurende sy laaste jare het hy in Philadelphia gebly en 'n teruggetrokke lewe gevoer. Terwyl hy geweier het om onderhoude te voer en briewe te wissel, het hy Suid-Afrika se rassebeleid skerp veroordeel - 'n standpunt waarvoor hy in 1978 postuum vereer is.

Terwyl Europese gehore hom in onder meer Londen, Parys en Moskou eufories gevier het, het hy die laat eerbewyse van sy eie geboorteland nie meer beleef nie. Sy afsterwe in 1976 "marked the passing of the perhaps most important American cultural and political figure in the twentieth century", aldus die historikus Acklyn R. Lynch wat op Afrika-studies fokus.[1]

In 1995 is hy in die College Football Hall of Fame opgeneem, in 1998 met 'n Grammy vir sy lewenswerk en met 'n spesiale posseël van die Amerikaanse Posdiens as deel van die Black Heritage-reeks vereer, terwyl 'n kulturele sentrum op die kampus van Penn State University en 'n hoërskool in Brooklyn vandag sy naam dra.[2]

Hy word onthou vir sy kenmerkende diep en sonore basstem, as een van die vernaamste vertolkers van Eugene O'Neill se toneelstukke, as meesterlike vertolker van Othello (wat ook die laaste rol was wat hy in 1959 in Stratford-upon-Avon gespeel het), as kampvegter vir die regte van Walliese mynwerkers, en as 'n simboolfiguur vir menseregte en swart selfbewussyn.

  1. Maria Schubert: «We Shall Overcome». Die DDR und die amerikanische Bürgerrechtsbewegung. Paderborn: Ferdinand Schöningh 2018, bl. 82
  2. Internet Movie Database: Paul Robeson. Besoek op 9 Maart 2016

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search